Blog •  2021/03/31

BLAARSIEKTES OP MIELIES...BENUT DIE OPTIMALE WAARDE VAN SWAMDODER BESKERMINGSPOTENSIAAL OP MIELIES

IMG-Tile_Image-Pioneer-ZA_ZA-V1

Mauritz van Heerden, Pioneer Agronoom & Dr Rikus Kloppers, Navorsingsleier, Gewasbeskerming -  Afrika en die Midde-Ooste, Corteva Agriscience ™

Behoorlike siektebestuur is van kritieke belang vir die behoud van mielie opbrengste. As dit nie reg hanteer word nie, kan siektes `n belangrike opbrengs beperkende faktor wees. Pioneer het oor jare uitgebreide navorsing gedoen om die waarde van swamdoderbehandelings in mielieproduksie beter te verstaan. Oor die bestek van slegs `n paar jaar het swamdoderbehandelings gevorder van `n meestal nuwe en lukrake praktyk, tot `n betekenisvolle komponent van baie produsente se volhoubare bestuurstelsels. Daar is ook aansienlike vordering in die afgelope jare in die landbouchemiese wêreld gemaak, rakende nuwe swamdoders, die spektrum van patogene wat dit beheer, en die wisselwerking met verskillende genetiese platforms in mielies.  Die groeistadium van die mielieplant en plantdatum is beide belangrike faktore wat die begin en ook die verloop van siektes kan bepaal. Die potensiële waarde van swamdodertoedienings hang af van die siektedruk, bastervatbaarheid, vorige gewas- en bewerkingsmetodes en die omgewingstoestande gedurende die groeiseisoen. Die gebruik van swamdoders moet gesien word as een van die belangrikste stukke gereedskap, beskikbaar vir die produsent, om die opbrengspotensiaal van sy gewas te behaal. Teling oor die tye het met rasse skrede gevorder om ‘n hoë opbrengspotensiaal daar te stel en ook vir die plante om onder hoë plantestande suksesvol te oorleef en groot aantal  koppe per hektaar te lewer.   Hierdie hoë stande en veral onder besproeiing skep natuurlik weer ‘n uiters geskikte mikroklimaat vir swamsiektes by vatbare mieliebasters en dis hier waar siektebeheer met geskikte swamdoders van kritiese belang is.

 

In ’n ideale omgewing is dit moontlik om te voorspel hoe die seisoen gaan lyk en watter probleme om te verwag, ons weet egter dit is feitlik onmoontlik om presies te voorspel hoe die toestande in ‘n groeiseisoen gaan uitspeel.  Die voorkoms van peste en plae is totaal en al afhanklik van die onvoorspelbaarheid van omgewingstoestande tydens die kritieke groeistadia van die gewas.  Die siektedriehoek (Fig. 1) illustreer hierdie beginsel die beste, waar siekte slegs kan voorkom met oorvleueling van al DRIE die faktore, naamlik die vatbaarheid van die gasheerplant, patogeen (siekteveroorsakende organisme) en geskikte omgewingstoestande.

IMG-Fig_1-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig.1 Plantsiektedriehoek
IMG-Fig_1-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig.1 Plantsiektedriehoek

Siekte epidemies ontwikkel gedurende die tyd wat die gewas groei binne n bepaalde seisoen en dit bepaal wanneer die infeksie plaasvind, hoe vinnig die siekte vestig, die epidemie ontwikkel en wat die uiteindelike skade sal wees.  Hierdie beginsels word gebruik in modelle wat die voorkoms en ontwikkeling van sekere blaarsiektes op verskeie gewasse kan voorspel, en selfs wanneer om beheermaatreëls, al dan nie, toe te pas.

 

In die afgelope paar jare is daar nie in Suid-Afrika nuwe blaarsiektes op mielies aangemeld wat die produsent onkant gevang het nie.  Dit is eerder die voorkoms van siektes in areas waar dit voorheen van minder belang was, wat soms kan verras.  Dit is dikwels die direkte gevolg van klimaatstoestande wat wissel en die produksiestels wat verander.  Daarom is dit belangrik dat boere die bekende blaarsiektes op mielies kan herken en ook wanneer mens kan verwag om dit te sien.  Slegs die regte diagnose van ‘n siekte sal bepaal of die beheerstategie suksesvol sal wees of nie.  Een van die algemeenste foute wat produsente steeds maak, is byvoorbeeld om swamdoders toe te dien op siektes wat deur virusse, bakterieë of selfs fisiese skade (sonbrand, windskade ens) veroorsaak word.  Dit lei gewoonlik tot groter verliese as gevolg van onnodige insetkoste wat aangegaan word en die uiteindelike opbrengsverlies weens die werklike probleem wat nie korrek aangespreek word nie.  Grysblaarvlek, bakteriese streep en sonbrandskade word byvoorbeeld soms deur die ongeoefende oog verwar. Die beheer van hierdie siektes is baie verskillend, of in sommige gevalle, geensins moontlik is nie.  Dit is dus baie belangrik om u Pioneer Landboukundige te verwittig sodat hy behulpsaam kan wees om die siekte reg te kan identifiseer en dus die regte aanbeveling ten opsigte van beheermaatreëls kan maak. 

 

Die belangrikste mielieblaarsiektes het ook unieke behoeftes, in terme van omgewingstoestande, voor dit sal voorkom.  In jare wanneer weerstoestande baie gunstig is vir siektes, kan `n swamdoderbespuiting `n aansienlike ekonomiese voordeel bied en maak dit die inset oor en oor die moeite werd.  `n Gunstige seisoen vir die gewas is gewoonlik ook  n gunstige omgewing vir die siekte om te gedy.

 

Meeste van die patogene, soos die swam Exserohilum turicum wat Noordelike Mielieblaarskroei veroorsaak, oorwinter op siek mielieblare en ander plantdele. Spore word vanaf die plantreste vrygestel wanneer omgewingstoestande in die lente en vroeë somer gunstig word.  Hierdie spore word versprei deur reën spatsels en lugstrome na die nuwe blare van jong plante waar dit infekteer, letsels vorm en uit die letsels word dan weer spore geproduseer, wat verder versprei van blaar na blaar, plant na plant en selfs in die direkte omgewing tussen aanplantings, deur middel van die wind. Aan die einde van die seisoen oorleef die swam in plantmateriaal wat weer in die grond beland waar dit kan oorleef tot die volgende seisoen.    Bruinroes op mielies oorleef weer op alternatiewe gashere en die spore waai binne n kort tyd oor groot afstande na aanplantings waar dit infekteer, roespuisies vorm, wat weer duisende spore kan vrystel wat dan weer verder kan versprei.

 

Verder bepaal die fisiologiese groeistadium van die plant ook wanneer sekere siektes hulle verskyning sal maak. Blaarinfeksies kan voorkom op enige groeistadium, en hoe vroeër die letsels ontwikkel, hoe meer fotosinterende blaararea word vernietig en hoe meer skade veroorsaak dit. Daarom is voorkomende bespuiting van kardinale belang en dikwels meer effektief as  korrektiewe bespuitings. Dus moet die lande vroegtydig en gereeld deur gestap word om te kyk vir nuwe simptome. Skade kan opbrengsverliese insluit as gevolg van verminderde fotosintese, maar ook verliese, indien sekondêre stamvrotte na die voorkoms van erge blaarsiektes voorkom, en wat omval van die plante tot gevolg sal hê.

 

Navorsingsresultate het duidelik getoon dat monokultuur, mielies op mielies, `n hoër risiko het vir siekte en meer geneig is om voordeel te trek uit `n swamdoderbespuiting as waar mielies n gewas soos sojabone volg. Oorlewing van siektes in mieliereste kan lei tot vroeër infeksie en hoër siektevoorkoms met ernstige gevolge in die daaropvolgende mielie-oes. Aangesien baie siektes in plantreste oorleef,  kan die reste as bron van inokulum dien onder bewarings- of geenbewerkinspraktyke.   Hierdie praktyke bied geweldig baie ander voordele maar die produsent moet fyn oplet vir die voorkoms van siektes en die beheerstelsels daarby aanpas.

 

Die optimale toediening van swamdoders wissel afhangend van die weerstoestande tydens die seisoen, maar ook die streke waar mielies verbou word.  In die oostelike hoër reënval areas is die siektedruk gewoonlik baie groter as in die droëer westelike areas.    

 

Daar is etlike siektes wat op mielies in Suid Afrika kan voortkom maar in die artikel word hoofsaaklik op die meer ekonomies belangrike blaarsiektes gefokus, asook op die wat suksesvol met die regte swamdoderprogram goed bestuur kan word.

 

Bruinroes word gewoonlik eerste in die seisoen op die jong mielieplante gesien.  Die siekte word veroorsaak deur die swam Puccinia sorghi.  Omgewingstoestande wat die siekte bevorder is matige temperature (16 – 25ºC) en vogtige toestande (>95% humiditeit).  Bruinroes infeksie word bevoordeel deur dou/mistoestande veral gedurende die nag wanneer spore op die blaaroppervlak ontkiem en die blaar deur die huidmondjies penetreer.  Vroeë tekens van roesinfeksie is sigbaar as klein vlekkies op die blare sowat 5 dae na infeksie en dan ontwikkel volwaardige roespuisies (10-14 dae) (Figuur 2) waaruit spore vrygestel word en by vrystelling oor groot afstande deur die wind versprei kan word.  Hierdie spore kan dadelik, binne dieselfde seisoen, selfs op dieselfde plant weer infekteer.

IMG-Fig_2-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig.2 Bruinroes
IMG-Fig_2-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig.2 Bruinroes

Bruinroes word ook relatief vroeg in die seisoen gevolg deur Noordelike Mielieblaarskroei (witroes) (Figuur 3). Dit is tans die mees algemeenste blaarsiekte wat in alle mielieproduserende areas van Suid-Afrika voorkom.  Die siekte word veroorsaak deur die swam Exserohilum turcicum.  Omgewingstoestande wat die siekte bevorder is matige (18-27ºC), vogtige toestande en lang douperiodes.  Die swam oorleef op mielieblaarreste en talle sekondêre infeksies vind plaas vanuit bestaande letsels gedurende die seisoen.  Die letsels word gewoonlik eerste op die onderste blare opgemerk en soos spore vrygestel word uit hierdie letsels onder gunstige toestande, infekteer dit die blare boontoe en kry ʼn mens die effek dat die siekte opkruip in die plant.

IMG-Fig_3-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig. 3 Noordelike Mielieblaarskroei
IMG-Fig_3-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig. 3 Noordelike Mielieblaarskroei

Nog ‘n belangrike mielieblaarsiekte is Grysblaarvlek (Figuur 4) wat deur die swam Cercospora zeina veroorsaak word. Omgewingstoestande wat die siekte bevorder is matige tot hoë temperature en hoë humiditeit (>95%).  Die siektesimptome word veral rondom blomtyd sigbaar, alhoewel dit onder hoë siektedruktoestande vroeër reeds waargeneem kan word.  Dit is ’n blaarsiekte wat veral in KwaZulu-Natal en die oostelike hoëveld voorkom waar mis en / of hoë humiditeit en hoë temperature heers.  Daar bestaan ook so bietjie van ’n wanpersepsie dat die spore van die swam slegs luggedraagd is en met die wind en reën versprei.  Spore kan wel met die wind versprei, maar hierdie is sekondêre spore wat later in die seisoen van een aanplanting tot die volgende kan versprei, en gewoonlik oor korter afstande.  Die werklike bron van die siekte is egter plantreste van die vorige seisoen waar die swam oorleef en sodra die toestande gunstig word in die nuwe seisoen, word spore vrygestel wat die onderste blare van plante infekteer.  Hierdie letsels produseer nuwe spore wat weer vrygestel word en met reënspatsels en wind versprei na nuwer blare hoër op in die plant, namate die groeiseisoen vorder.  Dit is veral grysblaarvlek wat dikwels met sonbrand/droogte stremming (Fig. 5) verwar word.  Nodeloos om te sê dat die droogteskade nie beheer word nie en dat die onnodige toediening van ‘n swamdoder die boere ’n dubbele terugslag toedien.

IMG-Fig_4-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig. 4 Grysblaarvlek
IMG-Fig_4-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig. 4 Grysblaarvlek
IMG-Fig_5-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig 5. Sonbrand
IMG-Fig_5-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig 5. Sonbrand

Nie een van hierdie bogenoemde swamblaarsiektes is saadgedraagd nie. 

Die bogenoemde drie blaarsiektes word almal deur swamme veroorsaak en kan met geregistreerde swamdoders beheer word.   

Bakteriese blaarstreep (Fig.6) is ʼn siekte wat veral in die westelike produksieareas voorkom en hierdie simptome word met die van Grysblaarvlek verwar.  ’n Bakteriese siekte kan nie met swamdoders beheer word nie en kan swamdoderbespuiting ʼn duur fout wees sonder enige resultaat.

IMG-Fig_6-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig. 6 Bakteriese Streep
IMG-Fig_6-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig. 6 Bakteriese Streep

Mieliestreepsiekte (Fig.7) word deur die mieliestreepvirus veroorsaak.  Dit is ʼn komplekse siekte waar die virus deur ʼn bladspringer oorgedra word.  Die omgewingstoestande affekteer die voorkoms, oorlewing en verspreiding van die bladspringer wat die voorkoms en intensiteit van die siekte bepaal.  Soos in die geval van bakteriese siektes, kan MSV nie met ʼn swamdoder beheer word nie.  Beheer van MSV kom neer op ʼn kombinasie van maatreëls om die risiko van die siekte te verminder of te beperk en hoofsaaklik deur die beheer van die vektor, die bladspringer.  Alhoewel insekdoders as saadbehandelings effektief is en voorkom dat die bladspringers op jong plante voed en die virus oordra, is dit geensins ʼn waarborg of ’n kitsoplossing dat die siekte nie onder hoë druk en later in die groeistadia van die plant sal voorkom nie.

IMG-Fig_7-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig. 7 Mieliestreepsiekte
IMG-Fig_7-Pioneer-ZA_ZA-V1
Fig. 7 Mieliestreepsiekte

Algemene bestuursriglyne vir die risikobestuur van mielieblaarsiektes sluit in: 

 

-       Plant weerstandbiedende mieliebasters waar moontlik maar hou ook die opbrengspotensiaal van basters in gedagte.

-       Plant ’n mieliepakket en moenie net konsentreer op een vatbare baster met ’n hoë opbrengspotensiaal nie.

-       Bewerking en wisselbou om siektedruk te verlaag. 

-       Bewaringsbewerkingspraktyke met al die voordele wat dit bied, bevorder ongelukkig die oorlewing van blaarsiektes soos Grysblaarvlek en Noordelike Mielieblaarskroei aangesien die swamme hoofsaaklik in die mielieplantreste oorleef.  Siektebeheer in bewaringsbewerkingsisteem is van kritieke belang om die werklike voordele daarvan te kan geniet 

-       Die oordeelkundige gebruik van geregistreerde swamdoders in ʼn goeie swamdoderspuitprogram, kan die meeste van die swamsiektes op blare effektief beheer. 

-       Die ekonomiese regverdigbaarheid van ’n duur, chemiese inset is egter belangrik en is faktore soos die mielieprys, opbrengspotensiaal en siektevatbaarheid van die baster en risiko van siekte in sekere areas van groot belang.  Moenie onoordeelkundig spuit nie en dis belangrik om te onthou dat die primêre doel van swamdoderbespuitings die is van siektebeheer.  Verhoogde opbrengs en verbeterde staanvermoë is sekondêr en ’n bonus.

-       ’n Geïntegreerde beheerstrategie van al die bogenoemde is die beste benadering tot risikobestuur 

 

Daar is heelwat ander blaarsiektes waaraan nie in die artikel aandag gegee word nie omdat hulle minder algemeen of sporadies voorkom.  Dit beteken nie dat hulle nie groot opbrengsverliese kan veroorsaak nie.  Dit is dus raadsaam om steeds ʼn goeie bron of kenner te raadpleeg as verdagte simptome waargeneem word, sodat betyds opgetree kan word.