Blog •  2021/11/17

Insekte In Gewasverbouing

Something went wrong. Please try again later...

Deur: Mauritz van Heerden – Veld Agronoom Pioneer

Inleiding:

Verskeie publikasies oor mielieplae het die lig al in die begin van 1901 gesien, dit was ook die begin van mielie-entomologie. Goeie monografieë oor mielieplae het gedurende 1920 en ook in 1943 die lig gesien. Dekades van navorsing het daartoe gelei dat strategieë om plae, geweldig ontwikkel het. Gedurende die 1920’s was meganiese beheer van stamruspes aan die orde van die dag, gevolg deur die era van chemiese beheer vanaf die 1970’s tot 1990’s. Die algemene gebruik van genetiese gemodifiseerde gewasse (GMO) het in die laat 1990’s begin en word sedertien nog algemeen gebruik. Navorsing op hierdie tegnologie duur voort, soos genetika verbeter. Die gebruik van hierdie tegnologie vereis hoë en doeltreffende bestuurspraktyke.

Doeltreffende insekbeheer is absoluut noodsaaklik om te verseker dat die opbrengspotensiaal waarna die produsent streef, bereik word. Dit is belangrik dat insekbeheer oordeelkundig bestuur word, met die gedagte dat dit tydig en noukeurig beheer word. Die belangrikste grondinsekte wat bespreek gaan word, gaan ingedeel word volgens hul wyse van aanval op gewas.

Insekte wat saad, onder- en bogrondse dele van saailinge aanval:

1.Draadwurms (Elateridae) bestaan uit die groot-en kleinvalsdraadwurm (Heteroderes flavostriatus) 

Draadwurms is die larwes van skemerkewers en kniptorre. Die wurms is glad, hard en draadagtig en lig tot donkerbruin in kleur met ‘n lengte van 10-40mm.

Gasheerplante: Behalwe vir mielies, geen ander gasheerplant bekend nie. 

Lewensiklus: Hierdie groep insekte ondergaan ‘n volledige gedaanteverwisselling (metamorfose), dit wil sê dat die lewensiklus bestaan uit eier-, larf-, en volwasse kewerstadia. Die larwe of draadwurmstadium is die insek se skadelikste stadium. Die volwasse kewer rig geen skade aan nie. Die insek oorwinter in die grond in die vorm van ‘n rustende larf of papie. Gewoonlik een generasie per seisoen.

Skade: Draadwurms vreet gewoonlik die wortels van mieliesaailinge, jonger as 2 weke oud, of boor net onder die grondoppervlakte in die jong stingel in. Larwes vreet gate in jong saailing se stam, bokant nodus, waaruit eerste wortels ontwikkel. Groeipunt kan beskadig word en jongste blare begin afsterf. Dit staan gewoonlik as “dooie hart” bekend. Die gevolg is weereens onegalige standverlies.

Beheermaatreëls: ‘n Winterbewerking sal ‘n aantal draadwurms en papies kan dood, omdat die papies baie gevoelig is vir meganiese versteuring. Saadbehandeling met ‘n geregistreerde insekmiddel is ‘n vereiste om besmettings te beheer en selfs te voorkom.

2. Snywurm (Agrotis spp.)

Die gewone snywurm met sy vetterige, grys voorkoms wat in ‘n “C-vorm” oprol as hy gesteur word, het geen bekendstelling by produsente nodig nie. Indien die lande gedurende die winter en vroeë lente oorgroei is met groen plante (onkruid), kan produsente ‘n ernstige besmetting van snywurms verwag. Is besonder dik en gewoonlik donkerbruin of vuilgrys van kleur met ‘n gladde wasagtige voorkoms.

 

Lewensiklus: Die snywurm oorwinter as ‘n rustende larf onder die grondoppervlak. Aan die einde van die winter verander die rustende larf in ‘n papie. Gedurende September verander die papie in ‘n mot, wat eiers lê op groen plante in die land. Papie stadium is ongeveer twee weke. Klein larfies broei uit, word deur lig aangetrek en voed enkele dae lank op die blare van die groen plant, waarna hulle vreetgewoontes verander. Bedags word hulle by die plantwortels aangetref, maar snags val hulle die plante aan net onder of net bo die grondoppervlak en voed op die onderste gedeelte van die epidermis. Die fase van eier tot papie neem tussen 4 tot 5 weke. In die helfte van die derde larwe stadium, verander hule gedrag teenoor lig drasties. Dis gedurende hierdie periode dat die insek skade doen, skuil bedags en voed snags. Gewone snywurm het 6 (ses) larfstadias.

Skade: Groote van larf en ouderdom van plant bepaal die mate van skade; 1) groot larwes sny jong saailinge af, 2) klein larwes beskadig kelkblare van saailing, 3) jong larwes beskadig blaarskedes van saailinge, 4) groot larwes vreet gate in stamme by ouer saailinge en 5) groot larwes wat jong plante aanval. Saailinge kan beskadig word vanaf opkoms, wanneer die hele plantjie afgevreet word, tot sowat 4 weke na opkoms, wanneer ‘n koëlronde gat onder die grondoppervlak in die stam ingevreet word  en die ontwikkelende groeipunt beskadig word. Onder warm droë toestande kom die larwes by voorkeur nie na die grondoppervlakte nie en word saailinge dieper afgevreet.

Snywurms is ‘n onvoorspelbare plaag en kan in ‘n kort tyd groot skade aanrig. Snywurmskade kan normaalweg verwag word in nat lande of lande waarop daar groen plante binne 6 weke voor planttyd voorkom. Indien ‘n land onkruidvry gehou word vir 6 weke voor plant, kan dit meehelp om die snywurmprobleem grootendeels te voorkom.

Beheer: Daar is basies drie wyses van beheer: 1) meganiese beheer wat bestaan uit winterbewerking of bewerking voor plant, 2) chemiese beheer wat bestaan uit lok- of gifaastoediening of sintetiese piretroïedes wat gebruik word tydens of direk na plant as voorkomende maatreël en 3) biologiese beheer, soos natuurlike vyande, wespes, kewers en tarentale. 

3. Swartmieliekewer (Heteronychus arator) 

Hoewel dit wil voorkom of die swartmieliekewerbesmettings grootliks gestabiliseer het, bly dit steeds ‘n ernstige plaag. Die plaag kom gewoonlik in siklusse, waarin kewergetalle oor etlike jare hoogte- en laagtepunte bereik, voor.

 

Gasheerplante: Behalwe mielies is ‘n wye verskeidenheid gewasse soos pynappels, hawer, bokwiet, sonneblom, bone, aartappels, sorghum, koring en veskeie aangeplante grasse, gashere van hierdie insek.

Lewensiklus: Swartmieliekewer het net een generasie per jaar. Jong kewers verskyn ongeveer helfte van Desember uit papieselle wat onder die grondoppervlakte voorkom. Hierdie kewers vlieg dan tot laat-herfs en vroeë winter en soek plek om eiers te lê. Die volwasse kewer asook die larwe- en papiestadiums oorwinter in die grond. Die larwes is “miswurms” ongeveer 25mm lank wat voed op dooie organiese materiaal. Die volwasse kewer oorwinter by voorkeur in die ou mieliestoppels.

Gedurende September vorm die winterlarwes papieselle op ongeveer 13cm diepte waaruit na ongeveer ‘n maand die volwasse kewers verskyn. Die wyfie kewer lê 20-80 eiers, weereens op ‘n diepte van 13 cm onder die grond. Omtrent 11 dae later kruip die jong larwes weer hieruit. 

Skade: Die swartmieliekewer grawe gedurende die nag langs die jong mielieplantjies in die grond in en vreet dan ‘n uitgerafelde gat in die onderste stamgedeelte van die plant. Afhangende van plant se ouderdom, word daar drie tipes skade by mielies onderskei en  bogrondse simptome is die volgende: 1) Skade aan jong saailinge, dit is waar die groeipunt van jong plantjies afsterf (dooie hart) en oorblywende blare is blougroen gekleur. 2) Skade aan jong plante, dit is waar die plantjies sterf, groeipunt skade of dan meer as een spruit vorm. 3) Skade aan groot plant, dit is waar skade in ‘n meer gevorderde groeistadium aangerig word, vertoon die plant breë liggeel stroke oor die lengte van die blare. Plante kan ook later omval as gevolg van mieliekewerskade.

Beheer: Daar is basies drie wyses van beheer: 1) Meganiese beheer wat bestaan uit winterbewerking of bewerking voor plant, help nie eintlik vir mieliekewer nie, maar lente bewerking kan tot ‘n mate help. 2) Chemiese beheer is eintlik die doeltreffende wyse vir beheer. Chemie kan tydens plant toegedien word of as saadbehandeling aangewend word. Saadbehandeling is ook die mees effektiefste metode. 3) Biologiese beheer is min bekend by swartmieliekewers, maar ‘n natuurlike vyand soos tarentale kan kewers uitgrawe. 

4. Bontmieliekewer-larwes (Astylus atromaculatus)

Bontmieliekewers is oorwegend stuifmeelvreters wat saampak op pluime en baard van mielies. Die larwes wat ook bekend staan as Astylus-larwes of “haarwurmpie” is by die volgroeide stadium ongeveer 15 - 20mm lank, oranje tot bruin van kleur en oortrek met lang swart hare en voorsien van twee opvallende hakies aan die punt van die agterlyf. Papies is roomkleurig, maar dele kan soms ‘n rooierige skynsel hê.

Die volwasse stadium van die larwe is die geel-swart Bontmieliekewer wat in die laat somer in groot massa die pluime en baard van mielies toepak en ook blomme van sierplante en groentes. Hierdie kewers is so tussen 12 – 15mm groot en is eintlik swart met geel dekvlerke, waarop ‘n onreëlmatige patroon van swart kolle voorkom. 

 

Lewensiklus: Die bontmieliekewer het net een generasie per jaar. Gedurende die laat somer en vroeë herfs lê die volwasse wyfiekewer haar oranjekleurige eiers onder die kluite en dooie blare. Na ongeveer twee weke broei die larwes uit en oorwinter op die organiese materiaal. Gedurende Augustus-November is die volwasse larwe nog steeds aanwesig in die grond waar hulle groot skade kan berokken aan saad en jong saailinge. Vanaf Oktober verander die larf na ‘n papie en na twee weke ontpop die volwasse kewer. Eerste kewers verskyn ongeveer middel van Desember, uit papieselle onder die grondoppervlakte.

Skade: Kewers is meestal onskadelik op die pluime van mielies, maar kan skadelik wees op die baard van mieliekoppe, kan die bestuiwingsproses beïnvloed. By basters waar die skublare op die punte nie mooi toemaak nie, kan kewer tot ‘n mate vreetskade aan pitte op die punt van kop maak en by melk-en sagtedeegstadias. Gedurende droë toestande, wanneer kieming vertraag is, val die larwes die saad aan en vreet dan die kiem uit en selfs ook die endosperm. Veral saad wat vlak geplant is, is meer onderhewig aan die skade. In sulke gevalle bly net die saadhuid oor. Verlies in ontkieming van tot 20% is al toegeskryf aan Bontmieliekewer-larwes.

Beheermaatreëls: Daar is basies drie wyses van beheer: 1) Meganiese beheer soos fynsaadbed en dieper plant. 2) Chemiese beheer is eintlik die doeltreffende wyse vir beheer. Chemie kan tydens plant toegedien word en saadbehandeling met ‘n  geregistreerde insekmiddel is ook ‘n wyse van beheer. 3) Biologiese beheer is min bekend, maar ‘n natuurlike vyand soos tarentale kan kewers vreet en seker roofbesies wat kewer uitsuig, is opgemerk. 

Insekte wat bogrondse dele van saailinge en plante aanval:

1. Doodhouertjies of Erdvlooie (Protostrophus spp)

Leef op lewendige en dooie plantmateriaal in grond. Verskeie grondkalanders van die genus Protostrophus val jong plante aan, net na opkoms. Die insekte is klein, lig tot donkerbruin/grys en selfs metaalgroen. Hulle is vlerkloos en varieer in grootte van ± 4mm tot 12mm. Die kewertjies staan ook bekend as “doodhouertjies” omdat wanneer hulle versteur word, val die insekte van die plant af en gee voor dat hulle dood is.

 

Lewensiklus: Die lewensiklus bestaan uit ‘n eierstadium, larwe, papie en dan volwasse kewer en die tydsduur varieer afhangende van die spesie. Ongeveer twee weke nadat die kewers gedurende die somermaande uit die grond gekom het, begin die wyfie eiers lê. Eiers broei binne enkele dae uit en sodoende is larwes gedurende somermaande teenwoordig. Papies word gedurende Oktober en November maande op dieselfde diepte as larwes gevind. Die volwasse kewer oorwinter ook in die grond en is teenwoordig in die vroeë lente wanneer die gewasse geplant word.

Skade: Skadelikheid van doodhouertjies is afhanklik van twee faktore, naamlik die aantal kewers teenwoordig en die toestande waaronder die plant groei. Grondkalanders vreet blare van mielies, sorghum, grasse, bone, sonneblom, sojabone en aartappels. Dit is gevind dat die insek jong plantjies ringuleer (bas regom afvreet) en somtyds oorplant vereis.

Beheermaatreëls: Daar is basies drie wyses van beheer: 1) Meganiese beheer soos diep bewerking en vroeg plant. 2) Chemiese beheer is eintlik die doeltreffende wyse vir beheer. Chemie kan tydens plant toegedien word en saadbehandeling met ‘n geregistreerde insekmiddel is ook ‘n wyse van beheer. 3) Biologiese beheer is daar vlieë en wespes wat op sekere van doodhouertjie spesies parasiteer. Spinnekoppe en voëls kan hulle ook vang. Daar is ook patogeniese fungi wat kewers aanval. 

2. Mieliestamrusper (Busseola fusca)

Dit is op die oomblik een van die mees skadelikse plae van mielies in Suid-Afrika. Die insek het ‘n nie-verpligte rustoestand (fakultatiewe diapause) en benodig koue winters om te kan oorleef. Behalwe mielies is sekere sorghum spesies groot gashere vir die mieliestamruspe.  

 

Lewensiklus: Kan twee tot drie generasies in seisoen deurloop. Oorwinter as volwasse larf onder in die stam. September / begin Oktober word hy ‘n papie en dan ‘n mot van begin Oktober af. Mot lê eiers van agter die onderste blare in skedes (pakkies van 50 – 80). Larwes broei uit en beweeg na die blaar kelkrol. Vanaf einde November tot middel Desember beweeg hy uit en boor in die stam waar hy voed en weer ‘n papie word.

Hierdie papie vorm die tweede generasie mot wat so die tweede week in Januarie tot middel Februarie begin vlieg. Die vlieg van motte word gestimuleer deur temperatuur, vog en daglengte.

Skade: Rusper veroorsaak blaar-, stam-, kopsteel- en kopskade. Blaarskades vind in die kelke plaas waar die larwes die sagte, jong blare vreet. Vreetplekke in die stam het tot gevolg dat die toevoer van voedingstowwe na kop afgesny of gedeeltelik afgesny word. Stamskades kan ook lei tot sekondêre probleme soos fusarium en omval. Hierdie plaag bring groot ekonomiese verliese teweeg as gevolg van oesverlies.

Beheermaatreëls: Daar is basies vier wyses van beheer: 1) Meganiese beheer soos diep bewerking en aanpassing van plantdatum, kan help. 2) Chemiese beheer is eintlik die doeltreffende wyse vir beheer. 3) By biologiese beheer is daar verskeie patogene, parasiete en predatore wat ‘n rol speel. Daar is wespes en vlieë wat as natuurlike vyande beskou kan word. 4) Deur GMO basters met weerstand teen mieliestamruspers kan ook gebruik word. Die gebruik van hierdie tipe basters moet streng volgens tegnologie ooreenkoms bestuur word, anders kan weerstand afgebreek word. 

3. Chilo – Sorghum stamboorder (Chilo partellus)

Klein en groot larwes het ‘n romerige, wit kleur.  Twee rye swart kolletjies kom op die rug van die larwe voor, asook een ry swart kolletjies aan elke sy van die larwe. Die volgroeide larwes is kleiner as die van Busseola fusca en raak nie groter as 25mm nie. Die motte is ongeveer 15mm lank en wyfie is effens groter as mannetjie. Die eiers is ook roomwit en ovaalvormig en is ±500 in ‘n pakkie. 

 

Lewensiklus: Kan twee tot drie generasie in seisoen deurloop. Oorwinter as onvolgroeide en volgroeide larwes in droë mieliestamme en kopstronke. Volgroeide larwes kom in vroeë lente, September / begin Oktober deur ontsnappingsopeninge te voorskyn. Verander dan hierna in papies, vir vyf tot sewe dae, waarvandaan eerste motvlugte begin en hulle eiers lê. Larwes broei uit en beweeg na die kelkrol waar hul dan voed. Nadat larwes so ongeveer drie tot vier weke volgroeid is, verlaat hulle die kelk en boor dan in die stam en ander dele van plant in. Sommige larwes kan so kort as sewe dae in kelke voed, waarna hulle dan inboor. Papies kan ook soms agter die blaarskede gevorm word. 

Skade: Chilo is minder skadelik as die mieliestamrusper, omrede dit ‘n baie korter lewensiklus het en ook minder vreet. Blaarskades vind in die kelke plaas waar die larwes die sagte, jong blare vreet. Vreetplekke in die stam het tot gevolg dat die toevoer van voedingstowwe na kop afgesny of gedeeltelik afgesny word. Stamskades kan ook lei tot sekondêre probleme soos fusarium en omval.

Beheermaatreëls: Daar is basies drie wyses van beheer: 1) Meganiese beheer soos diep bewerking en aanpassing van plantdatum, kan help. 2) Chemiese beheer is eintlik die doeltreffende wyse vir beheer. 3) By biologiese beheer is daar verskeie patogene, parasiete en predatore wat ‘n rol speel. Daar is wespes en vlieë wat as natuurlike vyande beskou kan word. 

4. Bolwurm (Helicoverpa armigera)

Die eerste twee larfstadiums is gelerig tot rooibruin van kleur. Jong larwes is bedek met hare wat wissel van wit of beige, terwyl ouer larwes se kleur kan varieer van geel tot groen, pienk tot rooibruin en bruin tot swart-grys. Volgroeide larwes kan tot 40mm lank word. Die papies is donkerbruin van kleur. Eiers is byna sferies en is aan die begin geelwit, maar verkleur later na bruin. Die eiers is ook ongeveer 0.5mm in deursnee. Mot is 18-20 mm lank. Papies verkeer in ‘n winterslaap onder grond. 

 

Lewensiklus: Bolwurmmotte vlieg snags en lê eiers een-een op die blare en koppe van mielies. Mot lê ± 1600 geel eiers wat binne 3-5 dae uitbroei. Larwes tot papies neem slegs 3 weke. Die larwestadium duur ongeveer 30 dae en bestaan gewoonlik uit sewe stadiums. Diapouse fase duur tot 6 maande. Larwes is ook kanibalisties en daar kom dus selde meer as een larf bymekaar voor. Motvlugte is gewoonlik laat somer en dus hoekom dit baie gesien word op sojabone en mielies in hul reproduktiewe stadias.

Skade: Larwes vreet groot gate deur die kelkblaar rol. Ontlasting wat kenmerkend is van Afrika bolwurm word altyd naby voedingsdele aangetref. Kopskade is waar die baarde van jong koppe gevreet word en sodoende bestuiwing beïnvloed. Boonste dele van blare en pitte word beskadig, wat dan sekondêre siektes tot gevolg kan hê, soos kopvrot as gevolg van reënwater. By sojabone rig die larwes groot vreetskade aan die peule aan. Motte rig nie skade aan nie.

Beheermaatreëls: Daar is basies drie wyses van beheer: 1) Meganiese beheer soos diep winterbewerking kan help. 2) Chemiese beheer is eintlik die doeltreffende wyse vir beheer. 3) Biologiese beheer is daar verskeie parasiete wat die bolwurm in een of ander stadium aanval. Daar is ook sluipvlieë en wespes wat op eiers parasiteer. 

5. FAW = Herfs Kommandowurm (Spodoptera frugiperda)

FAW is in staat om op meer as 80 verskillende gewasse te voed. Hierdie spesie is een van die mees skadelike gewasplae. Terwyl FAW 'n voorkeur het vir mielies, die belangrikste stapelvoedsel van SA, kan dit ook baie ander groot verboude gewasse beïnvloed, insluitend sorghum, rys, suikerriet, kool, beet, grondboon, sojaboon, ui, katoen, weidingsgrasse, tamatie, aartappels en katoen. FAW versprei vinnig oor groot geografiese gebiede, veral in warm gebiede. FAW-motte het 'n trekgewoonte en 'n meer gelokaliseerde verspreidingsgewoonte. In die trekgewoonte kan motte meer as 500 km (300 myl) migreer voor oviposisie. Wanneer die windpatroon reg is, kan motte baie groter afstande beweeg. FAW se lewensiklus kan deur die jaar voortduur en sal deurlopend wees waar gasheerplante ook al beskikbaar is, insluitend buite-seisoen en besproeiingsgewasse, en as klimaatstoestande gunstig is.  

 

Volwasse larwe is bruin/groen met laterale beige strepe. Larwes is gewoonlik versteek in plante. Eierpakkies is bedek met ligbruin skaalhare. Gasheerplante is gewoonlik mielies en sorghum.

Lewensiklus: Eiers word in pakkies van 20-250 aan beide kante van die blare gelê. FAW se siklus is uit ses ontwikkelingstadiums van eier tot mot stadium. Jong larwes is moeilik om morfologies te identifiseer omdat die vroeë stadiums lyk soos dié van verskeie ander tipe larwes. 1) Instar 1& 2 is die larf lengte 1,5 tot 3,5mm en groen met swart kop en geen merke. 2) Instar 3 & 4 is die larf lengte 6 tot 10mm en die dorsale area ligbruin gekleur, ventrale area is groen met die laterale gedeelte, wit/beige sigbare strepe. Vier donker pinacula of verhewe kolle in ‘n gerangskikte vierkant op die 8ste abdominale segment en in 'n trapezium op die 9de segment. 3) Instar 5 & 6 is 15 tot 40mm lank en is ligbruin, groen, swart van kleur. Vier donker pinacula of verhewe kolle in ‘n gerangskikte vierkant op die 8ste abdominale segment en 'n trapezium op die 9de segment.

Skade: Larwes rig groot vreetskade aan blare van plante aan en is redelik agressiewe vreters. As gevolg van vinnige en aanhoudende lewensiklus, word verskillende larfstadiums gekry op plante, dus is vinnige optrede nodig.

Beheermaatreëls: Gereelde verkenning in lande moet gedoen word en indien FAW opmerk word, moet dit gerapporteer en vinnig opgetree word. Chemiese beheer is die mees effektiefste, terwyl daar ook nou gebruik gemaak word van GMO basters. 

Insekte wat sap van mielieplante suig:

1. Bladspringers (Cicadulina spp.)

Streepsiekte virus is een van die algemeenste siektes wat deur die byt van bladspringers oorgedra word en nie deur inokulering of inenting van sap nie. Die bladspringer is ‘n wigvormige insek, tussen 1 en 2,5 mm groot. Het ‘n geel kop met twee donker kolle, bors en agterlyf is geel aan onderkant, is bruin op die rug met deurskynende vlerke met ‘n bruin streep in die middel. Kom gewoonlik gelokaliseerd voor. 

Lewensiklus: Bladspringers oorwinter op wintergrane of gasheer plante soos bv. grasse, eragrostis- en digitaria- lande. Gewasse soos koring, raaigras, hawer en gars is ook groot bronne van oorlewing. Baie klein eiers word tussen die twee epidermale lae van die blare of blaarskedes gelê en is beiede kante van blaar sigbaar.

Lewensiklus is 5 tot 9 generasies en ‘n siklus is ± 7 – 21 dae. Gasheerplante is soos bv. grasse, eragrostis- en digitaria- lande. Gewasse soos koring, raaigras, hawer en gars is ook groot bronne van oorlewing. Motvlugte van mieliebladspringer strek gewoonlik van Augustus tot Desember.

Skade: Die steek- en suigende monddele van bladspringer stel hul in staat om streepsiekte oor te dra. By saailinge lei dit tot verdwerging van die plant en beïnvloed ook die vernaliteit van plant. Sinkronisasie van bevrugtingsproses kan ook beïnvloed word. Die impak op opbrengs kan negatief wees.

Beheermaatreëls: Saadbehandelings of grondsistemiese insekdoders is die mees effektiefste binne ses weke. Beheer van grasgashere en die plant van weerstandige- of verdraagsame mieliestreepsiekte variëteite.

 

2. Hawerplantluis (Rhopalosiphum padi.)

‘n Ongevleuelde volwasse hawerplantluis is vanaf 1.5 tot 2.0mm lank en is ovaalvormig. Grootste gedeelte van luis se pote is liggeel-groen, puntgedeelte is swart. Daarteenoor is die hele poot swart. Volwasse luise is donkergroen tot byna swart, met ‘n groot, rooiperskleurige area naby punt van agterlyf. Die luis suig met behulp van naaldagtige monddele, wat hulle in die plant druk, en die plantsap uitsuig.

 

Lewensiklus: Hawerplantluis het vier nimfstadias en ‘n volwasse stadium. Die luise het ‘n gasheerplantwisselende gedrag. Dit is ook onbekend hoeveel generasies hulle per jaar deurmaak.

Skade: Op sekere groeistadias is mielieplante meer weerstandbiedend teenoor hawerluis as op ander stadias. Navorsing het bepaal dat jong saailinge ‘n stof bevat wat voeding van hawerluis inhibeer en dat hierdie stof later verminder soos die plant ouer word. Drie tipes skade word deur hawerluis veroorsaak, 1) versnelde afsterwing van onderste blare, 2) swak vulling van die mieliekoppe en 3) virusoordraging. 

Beheermaatreëls: Goeie voedingsbestuur op mielies en die plant van basters wat redelike tot goeie toleransie het teenoor virussiektes. Hawerplantluise het heelwat predatore soos byvoorbeeld skilpadkewers. Die ekonomiese drumpelwaarde van beheer is nog nie werklik vasgestel nie. Die gebruik van sistemiese en kontakinsekdoders kan aangewend word. Onder besproeiing moet die gebruik van sintetiese piretroïedes, verkieslik nie gedoen word nie.

 

Samevatting:

In die moderne era van landbou het meeste van die bestuurspraktyke verander asook die gedrag van enige lewendige wese, dit is alles ter wille van oorlewing. Genetika het verander, bewerkingspraktyke het verander en tot ‘n mate omgewingsfaktore soos klimaat. Meer plantmateriaal op grond, as gevolg van hoër plantpopulasie en verminderde / bewaringsbewerkingspraktyke laat meer materiaal op die oppervlakte. Die bestuur van chemie en GMO basters speel al hoe meer ‘n belangrike rol in weerstandsbestuur, veral by die wyse van aksie by chemiese bestuur. Indien die weerstandsgene in GMO basters nie reg bestuur gaan word deur produsente nie, sal dit ‘n wyse van bestuur wees wat tot niet gaan wees, om insekte te beheer. 

Bronne: 

Insekplae van mielies in Suid-Afrika: LNR-Instituut vir Graangewasse-Potchefstroom - TW Drinkwater

Inseklopedie van Suider-Afrika: Erik Holm

The new invasive Fall Amyworm (FAW) in RSA: LNR-Plantbeskermings  Navorsings Instituut

Fall Armyworm in Africa: Feed the Future – A guide for Integrated Pest Management

Grondinsekplae van mielies in die Hoëveld: Landboukundige-Sakkie Koster