Blog •  2022/07/29

Omval by Mielies

Something went wrong. Please try again later...

Deur: Martin Brandt – Pioneer Landboukundige

‘n Paar redes hoekom mielies omval:

  • Agv ‘n verskeidenheid stresfaktore gedurende die seisoen wat stamsterkte en/of stamgehalte beïnvloed.
  • Die belangrikste stresfaktore wat lei tot omval is: droogte, min sonlig, insek- en siektedruk, en lae vrugbaarheid.
  • Stamprobleme ontstaan selfs wanneer goeie groeitoestande gevolg word deur minder gunstige omgewingstoestande.
  • Die hoë aanvraag na koolhidrate tydens graanvulling. Wanneer die plant nie voldoende koolhidrate kry deur fotosintese nie en dus uit die stamme en wortels moet onttrek.
  • Graanvul is die plant se hoogste prioriteit. 

Faktore wat omval kan bevorder

  • Strestoestande. Wanneer ’n mielieplant onder strestoestande verkeer, word fotosintese minder. As dit tydens graanvul plaasvind, is dit baie nadelig. In droogte en hitte maak die blare toe en dan fotosinteer die plant nie ten volle nie.
  • Bewolkte weer. Fotosintese neem drasties af in lang tydperke van bewolkte weer.
  • Haelskade. Hael verminder die blaaroppervlak drasties. Dit kan daartoe lei dat die plant sy nodige koolhidrate by die wortels en stam gaan kry pleks van deur sy blare. Dit verswak die wortels en stamme.
  • Oormatige reën. Wanneer baie reën in ’n kort tydperk saam met sterk wind val, kan sekere kultivars met swakker wortelstelsels omval.
  • Hoë plantestand. Dit veroorsaak dat mielieplante meer regop en hoër groei vanweë mededinging om sonlig. Plante met dunner stamme kom dus voor en kan, as dit deur ’n swam besmet word, makliker omval.
  • Te veel water. Lei tot versuiptoestande en verswak wortelgroei en -ontwikkeling.
  • Voedingstekorte of wanbalanse. Hoë vlakke van stikstof (N) en lae vlakke van fosfaat (P) verlaag stamgehalte.
  • Insekskade. Die mieliestronkboorder (Busseola fusca) vreet gate in die plant se stam, verswak die stam en maak dit vatbaarder vir swamme. Plant kultivars met die BT-geen om stamboorderskade te vermy.
  • Blaarsiektes. Noordelike blaarskroei en grysblaarvlek verminder die blaaroppervlak en dit verminder fotosintese.
  • Kultivar-vatbaarheid. Plant kultivars met weerstand teen stamvrot en ’n sterker staanvermoë.

Figuur 1. Plante wat verskeie stresfaktore ervaar het gedurende die groeiseisoen.

 

 

 

 

Belangrikste stresfaktore wat fotosintese beïnvloed:

  • Die tempo van fotosintese of die blaaroppervlak word verminder deur:
  1. Droogte
  2. Min sonlig
  3. Insekdruk
  4. Siektedruk
  5. Lae grondvrugbaarheid
  • As fotosintese nie in die energiebehoefte vir die ontwikkeling van die pitte kan voorsien nie,verplaas die plant koolhidrate van die wortels en stam na die kop.
  • Stamvrot organismes kan dan verswakte en sterwende plantweefsels binnedring.

Stamprobleme:

Kan selfs ontstaan wanneer goeie groeitoestande gevolg word deur minder gunstige omgewingstoestande.

  • Bykomende faktore soos:
  1. Grondvrugbaarheid
  2. Gewasbestuur
  3. Mikro-omgewingseffekte

kan die probleem op sekere lande verhoog.

Verdere bydraende faktore:

Daar is ‘n aantal faktore wat kan bydra tot omval by mielies, maar dit word meestal geassosieer met 'n kombinasie van verswakte stamme as gevolg van 'n soort stres tydens graanvul, en stamvrot patogene wat daarna die verswakte stamme binnedring.

Erge weersomstandighede tydens afdroging kan 'n primêre of bydraende oorsaak van omval wees. In baie gevalle sal stamme wat reeds swak is, onder sterk winde en reën breek.

Insekbesmetting, veral dié van die tweede generasie mieliestamboorder, kan 'n oorsaak van omval wees, maar is nou baie minder algemeen as gevolg van Bt-mielies.

Figuur 2. Stamme wat knak en breek agv strestoestande wat stamvrotte tot gevolg het.

 

 

 

 

 

 

Stresfaktore wat aanleiding gee tot swak stamme:

1. Droogtestres

  • Die afname in fotosintaat (suikers) weens droogtestres is deeglik gedokumenteer.
  • Wat regstreeks beïnvloed word is:
  1. Waterverhoudings
  2. Koolstofdioksied
  3. Suurstofuitruiling
  • As blare toedraai tydens droogte, word die doeltreffende blaaroppervlak vir sonlig verminder.
  • o Verlaag lignien-neerlegging in die stamwand, wat die stam baie swak maak.

2. Grondvrugbaarheid

  • Navorsers het gedokumenteer dat grondvrugbaarheid ’n diepgaande uitwerking op die gehalte van die stam het.
  • Die opvallendste is navorsing wat toon dat ’n kombinasie van hoë stikstof en lae kalium die gehalte van die stam ernstig kan verlaag

Stikstof (N) se rol

  • Hoë stikstof hou verband met ’n groter aantal pitte, wat die vraag na koolhidrate na die kop verhoog.
  • Hoër stikstof help ook om hierdie koolhidrate aan die stam te onttrek en na die kop te verplaas deur die verplasingstempo in die plant te verhoog.
  • Verhoogde stikstof lewer ook ’n bydrae tot ’n verlaging van lignienvaslegging in die stamwand.

Kalium (K) se rol

  • Die rol van kalium in die voorkoming van voortydige plantdood is al lank vasgestel.
  • Kalium funksioneer in die opbou van blaar- en stamweefsel en om die beweging van water binne die plant te reguleer.
  • ’n Toename in kalium hou verband met verhoogde fotosintese.

3. Lae Sonstraling

  • Fotosintese is die doeltreffendste in volle sonlig.
  • Die tempo van fotosintese neem direk toe met die intensiteit van sonlig.
  • Fotosintese kan op ’n bewolkte dag met meer as 50% afneem vergeleke met ’n dag met helder sonskyn.
  • Langdurige bewolkte toestande tydens graanvulling lei dikwels tot ’n erge onttrekking van die stamreserwes.

 

Koolhidraat behoefte:

Tydens graanvul stadiums:

  • Omvalprobleme kom dikwels uit stres tydens graanvul, wat die hoeveelheid koolhidrate wat van die stamme en wortels gemobiliseer word, verhoog.
  • By suksesvolle bestuiwing, plaas kopontwikkeling 'n groot vraag na die plant vir koolhidrate.
  • Wanneer die eise van die ontwikkelende pitte die aanbod wat deur die blare geproduseer word oorskry, word stam- en wortelopbergingsreserwes gebruik.
  • Omgewingstres, wat die hoeveelheid fotosintaat wat deur die plant geproduseer word, verminder, kan plante dwing om selfs groter persentasies stamkoolhidrate te onttrek, wat graanvulverhoudings ten koste van stamkwaliteit beskerm.
  • Aangesien koolhidrate wat in die wortels en stamme gestoor word, aan die kop gemobiliseer word, begin hierdie strukture afneem en verloor hulle gou hul weerstand teen grondgedraagde patogene.
  • Hoë temperature tydens graanvul verhoog die tempo waarteen swamme die plant binnedring en koloniseer.
  • Alhoewel patogene 'n sleutelrol speel in stamvrot ontwikkeling, is dit hoofsaaklik die onvermoë van die plant om voldoende fotosintaat te verskaf aan die ontwikkelende kop wat die proses inisieer.

Opsomming:

Hoë-opbrengs basters kan hoë opbrengste lewer ten koste van laatseisoen stamknak.

Hoër persentasies koolhidrate word verplaas tydens graanvul stadium.

Die stamkrimp proses word weerspieël deur die vermindering in stamwand dikte.

Die onderste stamlitte verswak wat dan lei tot omval.

Vir meer inligting gaan na www.pioneer.com/za of stuur ‘n e-pos na info.rsa@pioneer.com