Die voordeel van ‘n korrekte bemestingsprogram
In die boerderypraktyk word dit jaar na jaar al hoe belangriker om daarop te fokus om die regte bemestingsprogram te volg - soveel beter indien hierdie plan bereken is tot jou eie spesifieke grondbehoeftes. Boere voel soms of hulle ‘n plafon bereik het wat opbrengste betref - om deur hierdie plafon te breek moet daarop gefokus word om nutriënte akkuraat te plaas om sodoende in die langtermyn die grondpotensiaal te verhoog.
Deur slegs elke jaar net meer te bemes is nie die oplossing nie - oorbemesting het net soveel negatiewe effekte op die plantontwikkeling en opbrengste soos wat onderbemesting kan hê. Deur die korrekte berekende bemestingsprogram te volg, sal die elementverhoudings in die grond herstel word en sodoende word die grondpotensiaal verhoog.

Figuur 1: Mulder’s Chart
Die Mulder’s Chart gee vir ons ‘n duidelike uiteensetting van hoe belangrik die elementverhoudings in die grond is. Die oormaat van ‘n spesifieke element kan daartoe lei om ‘n ander element te onderdruk en terselfdertyd kan ons ook sien hoe party elemente weer die beskikbaarheid van ander elemente aanhelp.
Goeie saadbedvoorbereiding
In 'n goed voorbereide saadbed is die grond:
- Poreus genoeg om water deur te dring en sodoende goeie dreinering te handhaaf.
- Ferm genoeg om soveel as moontlik vog the behou vir die ontkiemingsproses.
- Gelyk genoeg om die egaligheid van optimale plantdiepte te verseker.

Figuur 2: ‘n Illustasie wat klem lê op die effek van saadbedvoorbereiding.
Sodra imbibisie plaasvind is dit krities belangrik dat die saad nie kort daarna weer uitdroog nie. Dit sal lei tot swak opkoms en die pas ontkiemde plantjie staan ‘n groot kans tot vroeë afsterwing. Daarom is die drie bogenoemde hoofpunte krities belangrik om genoegsame beskikbare vog vir die tydperk te verseker. Die optimale saadbed sal poreus genoeg wees om die mesokotiel in staat te stel om die plumula bo die grond uit te stoot, terselfdertyd sal dit ook ferm genoeg wees om onnodige vogverlies te voorkom.
Goeie voorbereiding vir plant is krities belangrik. Deur net die twee basiese beginsels van ‘n korrekte bemestingsprogram en goeie saadbedvoorbereiding te volg, skop jy reeds die plantseisoen op ‘n goeie voet af.
Vir meer inligting kontak Pioneer by info.rsa@pioneer.com, of besoek ons webblad by www.pioneer.com/za