Geskryf deur: Pioneer Landboukundige
Pioneer toets al die afgelope vier jaar kommersieel beskikbare kultivars in kuilvoerproewe. Uit hierdie werk het ‘n belangrike vraag ontstaan: Wat maak ‘n kuilvoermielie werklik goed? Gaan dit bloot oor volume, of speel kwaliteit ‘n groter rol as wat ons soms besef? In hierdie Gewasfokus-artikel ondersoek ons hoe hierdie twee eienskappe saamwerk wanneer kuilvoerkultivars beoordeel word.
Foto 1: Dit is tipies waarna boere kyk wanneer mieliekultivars vir kuilvoer beoordeel word. Die kultivars is tipies lank en blaarryk.
Wanneer boere na kuilvoermielies kyk, is die eerste indruk dikwels ‘n plant wat groot (baie lank) en baie blaarryk is. Dit skep die verwagting van hoë opbrengs en baie volume. Hoewel hierdie waarneming nie verkeerd is nie, vertel dit nie die hele storie nie.. ‘n Goeie kuilvoerkultivar word deur meer as net sy grootte bepaal.
In Pioneer se kuilvoerproewe is metings gegrond op kultivars se blaar-, stam- en kopgewigte om beter te verstaan wat werklik tot die totale opbrengs van ‘n kuilvoermielie bydra. Tabel 1 en Tabel 2 wys dat ‘n langer (lengte) kultivar meer bogrondse opbrengs produseer in vergelyking met ‘n korter kultivar.
| Gewig van die inkuilbare dele van 'n mielie | |||||
|---|---|---|---|---|---|
| Kultivar | Planthoogte (meter) | Blare (gram) | Stamme (gram) | Koppe (gram) | Totale gewig per plant |
| P2927 platform | 2,95 | 261 | 419 | 435 | 1 114 |
| P2432 platform | 2,59 | 229 | 367 | 445 | 1 041 |
| P1975 platform | 2,42 | 229 | 306 | 432 | 967 |
| P1788 platform | 2,56 | 165 | 280 | 391 | 835 |
Tabel 1: Gewig van die inkuilbare dele van ‘n mielie.
Die data wys duidelik in Tabel 1 en Tabel 2 dat P2927, wat ‘n groot plant is, meer volume produseer as ‘n kultivar soos P1975 wat korter is. Maar beteken meer massa noodwendig beterkuilvoer? Sal ‘n groter totale opbrengs die produksiepotensiaal van die dier wat die kuilvoer gebruik aansienlik verbeter, omdat daar meer volume geproduseer word? Om dit te beantwoord, moet ons na die voedingswaarde van die kuilvoer kyk.
Wanneer kuilvoer beoordeel word, is opbrengs slegs een deel van die prentjie. Goeie kwaliteit kuilvoer word onder andere deur die volgende eienskappe gekenmerk:
Tabel 3 bevat die kwaliteitsanalises wat by Labworld (Pty) Ltd in Isando, Johannesburg gedoen is. Labworld is ‘n filiaal van CVAS (Cumberland Valley Analytical Services) in die VSA. NIR-tegnologie word gebruik om alle voedingsparameters van gefermenteerde kuilvoer te meet.
Die kwaliteitsresultate wys dat ‘n groot massa-opbrengs kultivar soos P2927 goeie kwaliteit kuilvoer produseer, maar dat die effense laer massa-opbrengs kultivar, P1975, beter gehalte kuilvoer kan lewer.
| Persentasie wat elkeen bydra tot die totale opbrengs | |||
|---|---|---|---|
| Kultivar | Blare | Stamme | Koppe |
| P2927 platform | 23% | 38% | 39% |
| P2432 platform | 22% | 35% | 43% |
| P1975 platform | 24% | 32% | 45% |
| P1788 platform | 20% | 33% | 47% |
| Gemiddeld | 22% | 34% | 43% |
Tabel 2: Persentasie wat elke deel (blare, stamme en koppe) tot die totale opbrengs bydra.
| Kultivar | Stysel % | TVV | Opbrengs @ 35% DM | Melkproduksiepotensiaal per ha (kiloliter per ha) |
|---|---|---|---|---|
| P2927 platform | 36,0 | 72,0 | 72,4 | 36 |
| P2432 platform | 37,7 | 73,0 | 66,2 | 32 |
| P1975 platform | 37,8 | 74,9 | 63,8 | 35 |
| P1788 platform | 39,9 | 74,6 | 66,7 | 34 |
Tabel 3: Kwaliteitsdata van kultivars getoets in Pioneer se kuilvoerproewe oor die afgelope drie jaar.
Wanneer kuilvoerkultivars vergelyk word, gaan dit nie oor kwantiteit óf kwaliteit nie – dit gaan oor die regte balans tussen die twee, soos blyk uit Tabel 3. ‘n Goeie vergelyking kan getref word tussen lang en kort kultivars wanneer gekyk word na die melkproduksie-potensiaal.
Net so kan 'n kultivar met effens minder opbrengs uiteindelik groter waarde lewer wanneer kwaliteit in berekening gebring word.
Die keuse van ‘n kultivar hang uiteindelik af van hoe dit by ‘n boerdery se doelwitte en bestuurspraktyke inpas. Indien ‘n boerdery byvoorbeeld daarop fokus om ‘n groenvoergewas soos hawer te vestig, dan sal ‘n mieliekultivars met ‘n korter groeilengte beter by daardie stelsel inpas. Data soos hierdie help boere om met groter sekerheid besluite te neem en ‘n kultivar te kies wat die beste balans tussen opbrengs en kwaliteit vir hul spesifieke boerdery bied. Elke boerdery het unieke doelwitte, en die regte kuilvoerkultivar hang af van meer as net opbrengs alleen.
Gesels met jou Pioneer-verteenwoordiger of kyk na ons kuilvoer brosjure om die kultivar te kies wat die beste balans tussen kwaliteit, opbrengs en jou voervloei bied.
Pioneer® brand products are provided subject to the terms and conditions of purchase which are part of the labeling and purchase documents. ™ ® SM Trademarks and service marks of Pioneer and its affiliated companies. © 2026 Pioneer