Blog
2026/08/24

Ontsluit Sonneblom se Volle Potensiaal

Maak seker elke groeistadium tel met bestuurspraktyke wat opbrengs en olieproduksie ondersteun.

Geskryf deur: Philip Fourie, Pioneer Landboukundige

Inleiding

Sonneblom is een van die wêreld se belangrikste oliesaadgewasse en speel 'n waardevolle rol in voedselproduksie. Wêreldwyd is dit die vierde grootste oliesaadgewas ná sojabone, palm en canola. Suid-Afrika en die VSA plant jaarliks ongeveer dieselfde oppervlakte sonneblom aan — sowat 600 000 ha.

Sonneblom is goed aangepas by droër toestande en bied ook die buigsaamheid om later in die plantseisoen aangeplant te word. Dit maak sonneblom ook 'n uitstekende wisselbougewas vir die somer reénval produksiegebiede. Die aanvraag na sonneblom olie en produkte het aansienlik gegroei die afgelope paar jare. Oliesaad produksie het die mark begin domineer, plaaslik en internasionaal. Wanneer elke groeistadium reg bestuur word en moderne tegnologie doelgerig ingespan word, kan opbrengs én olieproduksie verbeter. Die huidige wêreldrekord vir sonneblom staan op 6,21 t/ha - Rusland.

Karaktereienskappe

Die sonneblom ontwikkel 'n sterk penwortel wat tot ongeveer 2 m diep kan groei. Hierdie wortelstelsel help die plant om vog uit dieper grondlae te benut.

Die sonneblom kop is een blom, maar elke blom bestaan uit duisende klein individuele blommetjies, gerangskik in ‘n spiraal, met die oudstes aan die buitekant en die jongstes in die middel, elk blom met beide manlike en vroulike reproduktiewe organe. Moderne sonneblombasters bestuif hulleself en is nie afhanklik van bye vir suksesvolle bestuiwing nie.

Groeistadiums

Om elke groeistadium te verstaan, help boere om bestuursbesluite betyds aan te pas en opbrengs sowel as olieproduksie te verbeter. Die vereistes wat verskillende omgewingstoestande veroorsaak sal beter geïnterpreteer word, om oesverliese en lae olieproduksie te verhoed.

  1. Ontkieming en opkoms.
  2. Vegetatiewe stadium - tussen ontkieming en blom.
  3. Blomstadium - geel blomme.
  4. Fisiologiese ryp stadium - saadvul en sintese van vetsure.

Omgewingsfaktore wat groei & ontwikkeling beïnvloed

Sonneblom eienskappe word beïnvloed deur genetiese en omgewingsfaktore. Elkeen se invloed verander gedurende verskillende ontwikkelingsstadiums.

Vog: Vog bly een van die belangrikste faktore wat sonneblom se opbrengs en olie-inhoud beïnvloed. Wanneer plante onder vogstremming verkeer, neem saadopbrengs en olie-inhoud af, terwyl proteïenvlakke dikwels toeneem. Stremming verlaag planthoogte, verminder kopdeursnee, aantal pitte per kop en die saad index (1000 sade gewig).

Temperatuur: Temperatuur speel deur die hele seisoen 'n belangrike rol, veral tydens ontkieming en saadvulling. Hoë temperature later in die seisoen kan opbrengs én oliekwaliteit beïnvloed. Die gemiddelde olie konsentrasie neem af terwyl ongewenste oliensuur toeneem en gewenste linolien afneem.

Grond: Sonneblom presteer die beste in goedgedreineerde gronde. Vermy laagliggende areas waar water maklik ophoop. pH is gewens tussen 5.8 en 6.5. Grondsuurheid kan opbrengs aansienlik beperk indien dit nie bestuur word nie.. Die grootste olie opbrengste word verkry in vertisol gronde.

Verbouingspraktyke

Saadbed

Plantdatum: Opbrengste is die produk van verskeie faktore oor seisoene en tussen seisoene. Geen twee seisoene is dieselfde nie, maar vroeë aanplantings lewer dikwels beter opbrengs en hoër olie-inhoud.

Verbouing en bewerking - olieproduksie:

Rywydtes: Kies rywydtes en stande wat optimale opbrengs verseker teen die minimum saadkoste. Rywydte beïnvloed hoe plante met mekaar kompeteer vir lig, water en voedingstowwe. Minder kompetisie tussen plante en beter ligbenutting kan uiteindelik bydra tot beter olieproduksie.

Plantestand: Verskille vir standaanbevelings is baie algemeen. Soos stande toeneem, neem plantlengte toe, omval verhoog, kopdeursneë neem af en kop vog neem af. Met baie hoë populasies verhoog die afdroogspoed, wat weer lei tot verhoogde olie persentasie, maar dit sal nie noodwendig opbrengste verhoog nie. Verhoogde plantestande tot 75,000 plante per hektaar, het gevolglike hoër olieproduksie tot gevolg. Indien dit verder verhoog, is daar ‘n dramatiese afname in olieproduksie. Dit kan die gevolg wees van plantkompetisie wat te hoog geraak het. Die hulpbronne is uitgeput om aan die aanvraag van baie plante te voorsien. Dit kan verduidelik word aan die hand van olie inhoud, wat nie realiseer nie, vanweë die verhoogde kompetisie en beskikbaarheid van hulpbronne. Plantpopulasie beinvloed die kwaliteit saad wat geproduseer word, hektoliter massa en olie persentasie. Die doel is om die plantestand te kies wat die beste kombinasie van opbrengs én oliegehalte vir jou produksie-omstandighede lewer.

“Ry"-oriëntasie: Navorsing het geen noemenswaardige verskille uitgewys in opbrengs, olie persentasie of hektoliter massa nie.

Bemesting: Bemesting behoort altyd volgens die opbrengspotensiaal van die land beplan te word. Fosfor (P) en kalium (K) waardes moet voldoende wees. Let op plasing van kunsmis tydens plant. Kalium speel 'n belangrike rol om plante beter deur droogtestremming te help. Die effek van kalium bemesting op sonneblom is nog nie wyd gedokumenteer nie. Proewe het getoon dat waterstremming net voor- en na blom, ‘n groot effek het op planthoogte, kopgrootte, blomset, oliensuur inhoud en fosfaatopname. Vogstremming voor blom het tot ‘n verhoging van linoliensuur gelei. Hoër peile van kalium het hoër opbrengste tot gevolg. Proewe het ook gewys dat ammoniumnitraat as topbemesting dikwels beter resultate as ander stikstofbronne lewer. Studies toon dat verhoogde stikstofbemesting by ‘n stand van 60,000 plante per hektaar die grootste wins per hektaar getoon het.

Siektes en plae: Sclerotinia kan tot soveel as 50% oesopbrengs tot gevolg hê.

Oes: Oestyd is net so belangrik soos planttyd. Vermy onnodige vertraging, aangesien pituitval verliese kan verhoog. Deur koppe te droog te laat word, kan verliese as gevolg van uitval voorkom. Die meeste basters wat bemark het genetiese eienskappe wat “groenstam” bevorder. Moderne sonneblombasters bied beter droogteverdraagsaamheid, hoër opbrengspotensiaal en beter aanpassing oor verskillende produksiegebiede.

Voorplanting: Sonneblombasters bestuif self en het nie insekte nodig om te bestuif nie. Bastersaad word verkies agv. die vermoë om droogtes te hanteer, hoër opbrengspotensiale, aanpassings oor wyer areas en hoër olieproduksies.

Verbruik en geleenthede

Sonneblom saadolie: Die olie-inhoud van sonneblom word hoofsaaklik deur genetika bepaal, maar omgewingsfaktore speel ook 'n groot rol. Olie konsentrasie word grootliks bepaal deur die fotosensitiewe radiasie betrokke tydens saadvulling. Sonneblomolie bestaan uit omtrent 85% onversadigde hoë kwaliteit vetsure.

Olie opbrengste verskil grootliks oor plantdatum. Olie inhoud van saad aan die buitekant van die kop het ‘n hoër olie inhoud as sade in die middel van die kop. Dit wys dat olie-opbou oor 'n lang tydperk plaasvind en sterk deur die seisoen se toestande beïnvloed word.

Later aanplantings ontwikkel dikwels onder koeler toestande, wat die samestelling van die olie kan beïnvloed. Veranderinge in olien en linolienkonsentrasies word bepaal deur sonstraling en dagliglengte. Temperatuur en sonstraling saam, het geen noemenswaardige effekte getoon nie.

Samevatting - Groen ekonomie van sonneblom

Sonneblom bly 'n waardevolle gewas vir baie Suid-Afrikaanse boere. Met die regte kultivar, goeie bestuurspraktyke en doelgerigte besluitneming kan opbrengs én olieproduksie verder verbeter word. Moderne tegnologie en data kan boere help om elke hektaar meer doeltreffend te bestuur. Deur alle dele van die gewas optimaal te benut, word waarde toegevoeg en hulpbronne meer doeltreffend aangewend.

Kontak Pioneer vir meer inligting oor hul sonneblomprodukte.

Pioneer® brand products are provided subject to the terms and conditions of purchase which are part of the labeling and purchase documents. ™ ® SM Trademarks and service marks of Pioneer and its affiliated companies. © 2026 Pioneer