Geskryf deur: A.J. Steyn, Pioneer Landboukunidge
Gedurende die 2023/24-seisoen is ’n geelmielieplantpopulasieproef in die Hopetown-gebied uitgevoer om te bepaal watter plantpopulasie onder besproeiing die beste balans tussen opbrengs en waterverbruik bied. P1225PW en P1257PW is teen plantpopulasies van 85 000, 95 000 en 100 000 plante per hektaar aangeplant. Figuur 1 toon die opbrengste en die vogpersentasie tydens stroop. Waterverbruik per kultivar en plantpopulasie is ook bepaal, met die resultate in Tabelle 1, 2 en 3.
Omdat hierdie proef slegs eenmalig geplant is en nie herhalings ingesluit het nie, is die verskille tussen die resultate waarskynlik nie statisties betekenisvol nie. Die resultate gee egter ’n algemene aanduiding van waar die kultivars onder volbesproeiing die beste kan presteer. Onder die volbesproeiingstoestande van hierdie proef was die opbrengs by 85 000 plante per hektaar laer. Die moontlike risiko van beurtkrag is egter nie in die proef verreken nie, aangesien die proef deurlopend volbesproeiing ontvang het.
Die proef is op ’n vlak Kimberley-tipe grond met ’n klei-inhoud van 16% uitgevoer. Die proef het in totaal 380 kg stikstof (N), 65 kg fosfor (P) en 90 kg Kalium (K) ontvang. Die gronddiepte was nie heeltemal homogeen nie, en geringe variasie in die resultate is dus moontlik.
Die mielies is deur die seisoen met gereelde, ligte besproeiings volbesproei en het geen droogtestremming ervaar nie.
Figuur 1. Opbrengste van P1225PW en P1257PW teen plantpopulasies van 85 000, 95 000 en 100 000 plante/ha. Opbrengs word deur die histogram aangedui, met vogpersentasie tydens stroop bo-aan.
Tabel 1. Gemiddelde opbrengs, watergebruik en watergebruiksdoeltreffendheid per stand vir albeikultivars (P1225PW en P1257PW).
| Plant populasie | 100,000 | 95,000 | 85,000 |
| Watergebruik (mm) | 605 | 625 | 625 |
| Opbrengs (t/ha) | 17.657 | 17.733 | 17.368 |
| WGD (Kg/mm) | 29.2 | 28.4 | 27.8 |
Tabel 2. Opbrengs, watergebruik en watergebruiksdoeltreffendheid per stand vir P1225PW.
| Plant populasie | 100,000 | 95,000 | 85,000 |
| Watergebruik (mm) | 614 | 650 | 629 |
| Opbrengs (t/ha) | 17.560 | 17.408 | 16.282 |
| WGD (Kg/mm) | 28.6 | 26.8 | 25.9 |
Tabel 3. Opbrengs, watergebruik en watergebruiksdoeltreffendheid per stand vir P1257PW.
| Plant populasie | 100,000 | 95,000 | 85,000 |
| Watergebruik (mm) | 596 | 612 | 638 |
| Opbrengs (t/ha) | 17.755 | 17.827 | 16.909 |
| WGD (Kg/mm) | 29.8 | 29.1 | 26.5 |
Die resultate in die tabelle toon dat die 100 000-plante/ha-plantestand die beste watergebruik en watergebruiksdoeltreffendheid gelewer het, gevolg deur die 95 000-plante/ha-stand. P1225PW het die hoogste opbrengs by 100 000 plante/ha gelewer, terwyl P1257PW die hoogste opbrengs by 95 000 plante/ha gelewer het. Omdat hierdie verskille waarskynlik nie statisties betekenisvol is nie, kan plantpopulasies tussen hierdie vlakke werk, afhangend van die boer se bestuursvlak.
Populasieproewe wat oor die afgelope drie jaar uitgevoer is, bevestig dat ’n plantestand van 95 000 plante/ha ook vir P1197PW goeie resultate lewer. P1225PW en P1257PW lewer ook goeie resultate by 95 000 plante/ha en word daarom teen dié plantestand aanbeveel vir volbesproeiing met ’n rywydte van 0,76 m. Die finale plantpopulasie sal egter afhang van die bestuursvlak en die hoeveelheid water wat beskikbaar is. Die risiko van beurtkrag sal ook hierdie besluit beïnvloed.