Geskryf deur: Philip Fourie, Pioneer Landboukundige
Sojaboonstand is een van die belangrikste bestuursbesluite wat aan die begin van elke seisoen geneem word. Hoewel sojabone beter as baie ander gewasse by verskillende plantestande kan aanpas, bly 'n sterk en voldoende stand noodsaaklik om opbrengspotensiaal te verwesenlik. Die uitdaging is om die regte balans te vind tussen optimale vestiging, opbrengs en winsgewendheid.
[Photo 1 and Photo 2]
Die aantal sade wat per hektaar geplant word, is een van die belangrikste bestuursbesluite aan die begin van elke seisoen. Die doel is eenvoudig: om die hoogste moontlike opbrengspotensiaal vir daardie seisoen te bereik. Plantestand gaan oor die regte balans tussen maksimum lig benutting en om nie meer saad te plant as wat nodig is nie. Hoër stande verhoog immers saadkoste én kompetisie tussen plante.
Sojaplante is minder sensitief vir standverskille as gevolg van die gewas se inherente vermoé om te kompenseer. Die vermoë om sytakke aan te lê tydens swak gewasvestiging, stel die plant in staatom tot ‘n mate te kompenseer vir swakker stande. Sojabone het ook die inherente eienskap dat dit swakker saailinge laat afsterf, ten einde die meer dominante plante kans te gee om hulle volle potensiaal sonder kompetisie te bereik.
Oor die afgelope paar jaar het verskeie ontwikkelinge daartoe bygedra dat baie hoë plantpopulasies minder algemeen geword het. Aanbevole stande het tussen produksiegebiede al hoe meer in lyn begin kom. Hoewel laer stande goed kan presteer, neem die risiko van opbrengsverliese toe wanneer omstandighede minder gunstig is.
Navorsing toon dat vroeë aanplantings tot hoër opbrengste lei. Dit beklemtoon die belangrikheid van ‘n goeie stand aan die begin van die seisoen en om swakker stande te verhoed in moeiliker, later stresvolle omgewings.
Mieliestande het oor tyd geleidelik verhoog teenoor sojabone. Hoër stande by mielies is een van die belangrikste drywers vir verhoogde opbrengste en soos geteel word om strestoestande te oorkom, is ook geteel om konstante mieliekoppe teen hoër plantpopulasies te lewer.
By sojabone lyk die prentjie anders. Anders as mielies, lei hoër plantestand nie noodwendig tot hoër opbrengste nie. Trouens, aanbevole plantestand het oor tyd eerder afgeneem. Daar is verskeie faktore wat aanleiding gegee het tot die tendens.
Moderne sojaboonkultivars het 'n sterker vermoë om vir laer stande te kompenseer as in die verlede. Hulle produseer beter op sytakke, ongeag of dit bos- of semibostipes is, wat die risiko van laer plantestand verminder.
Saadkostes het oor die laaste 20 jaar verdubbel met die toevoeging van onkruiddoderverdraagsame gene en opbrengsverhoogde eienskappe. Hoër kostes maak dit belangriker om stande met groter ekonomiese winste te realiseer.
In die verlede was hoër plantestand die antwoord op swak en verouderde plantertoerusting. Met hedendaagse tegnologie het planterpresisie aansienlik verbeter. Plasing, diepte en druk is alles bydraende faktore wat beter plantestand tot gevolg het.
Verbeterings in die toevoeging van saadbehandelings en wye aanvaarding deur produsente help om saad beter teen uitdagende ontkiemingstoestande te beskerm.. Verskeie studies, veral op swamdoders, toon ‘n verbetering in stande met die toevoeging van swam- en/of insekdoders. In Suid-Afrika is die toevoeging van ApronBeans seker die bekendste produk wat op hierdie skaal gebruik word.
[Photo 1 and Photo 2]
Die gebruik van onkruiddoder-weerstandbiedende kultivars het die behoefte aan baie hoë plantestand vir onkruidonderdrukking grootliks verminder.. Hoër stande lei tot ‘n digter blaredak met ‘n groter oorskadu-effek. Die gebruik van glifosaat het die agronomiese praktyk bykans tot 'n einde gebring.
Wanneer opbrengs oor tyd vergelyk word, neem mielieopbrengste toe soos wat produktiwiteit toeneem. Langtermyn internasionale navorsing deur Pioneer het getoon dat opbrengste toeneem soos plantpopulasie toeneem. Selfs in droë seisoene het hoër stande steeds die laer stande geklop. Navorsing op sojaboonstande toon die teenoorgestelde. Studies oor Amerika en Kanada oor meer as 200 lokaliteite, toon dat produsente stande moet lig in gebiede of omstandighede van stremming of lae potensiale, maar dat stande verlaag kan word onder hoër potensiale en hoër produktiwiteit (Gaspar, 2019). Dieselfde tendens kom in ons Westelike produksiegebiede voor.
Die rede hiervoor is dat laer-potensiaalgebiede en hoë-stremmingsareas aanvanklik laer vestigingspotensiale realiseer en meer inherente afsterwe het oor die verloop van die groeiseisoen teenoor hoër-potensiaalgebiede en -gronde. Ons plaaslike westelike produksiegebiede weerspieël dieselfde patroon. Dink aan die tipiese Westelike droë gronde in vergelyking met die hoë-potensiaal watertafelgronde.
Die behoefte aan hoër stande by hoë stremmings en laer-potensiaalgronde is as gevolg van die beperkings wat die omgewing op sytakontwikkeling en normale plantontwikkeling plaas. Plantontwikkeling word beperk deur faktore soos reënval, grondwaterkapasiteit, voedingstowwe, worteldiepte, en dies meer. Hierdie faktore beperk die plant se vermoë om maksimum lig te absorbeer. Hoër plantpopulasies onder laer potensiale verhoog die totale geabsorbeerde lig.
Die optimale saaddigtheid verskil tussen omgewings, opbrengspotensiale en groeiklasse.
Een van die belangrikste beginsels om in gedagte te hou by sojaboonstande, is dat finale stand aan die einde van die seisoen baie verskil van die aanvanklike plantdigtheid. Sojabone ondergaan natuurlike plantverliese deur die loop van die seisoen. Dit is die belangrikste faktor wat in gedagte gehou moet word vir 'n finale stand per hektaar.
Natuurlike afsterwe verhoog met ‘n verhoging in aanvanklike plantestand. Navorsing toon dat natuurlike afsterwe kan wissel tussen 15 en 20% by sojabone. Indien die aanvanklike plantestand 260 000 plante/ha was, sou ‘n 15-20% natuurlike afsterwe jou gelaat het met ‘n plantestand van tussen 208 000 en 221000 op V2.
Ander faktore soos ontkieming, groeikragtigheid en insekskade kan tot hoér plantverliespeile lei. Saadbehandelings teen swamme en insekte help om verliese weens grondgedraagde patogene en insekte te beperk.
Fisiese faktore soos korsvorming, gewasresidue of koue-opname is verdere faktore wat ook kan bydra tot verlaagde stande. Wat grondtemperatuur betref, is sojasaad se grondtemperatuurbehoeftes baie dieselfde as by mielies.
Die gevolgtrekking wat dus gemaak moet word, is dat aanvanklike sojaplantestand hoog genoeg moet wees om voorsiening te maak vir nie-ideale opkomstoestande. Indien aanvanklike stande te laag is, verhoog die risiko om oor te plant en van verhoogde opbrengste onder vroeë plantdatums gebruik te maak.
[Photo 1, Photo 2, Photo 3]
Geen enkele aanbeveling pas elke boerdery nie. Geografiese ligging en realistiese opbrengsmikpunte bly die belangrikste vertrekpunt wanneer plantestand bepaal word.
Plantdatum: Navorsing bewys die korrelasie tussen opbrengsverhoging en vroeë aanplantings. Vroeë aanplantings se grondtemperature is laer en baie laat aanplantings se stande moet verhoog, omdat die plant se bovorm gewoonlik kleiner is.
Grondtipe: Grondtipe het ‘n groot invloed op korsvorming, grondtemperature en grondgedraagde siektes.
Saadbed: Geenbewerking vs. konvensionele grondvoorbereiding. Geenbewerking plaas hoër druk op saadontkieming en saailingvestiging, juis weens koeler gronde en moontlike probleme met residue, veral saad-tot-grond kontak-aksie. Elke tipe bewerking het sy eie uitdagings en beperkings; jy moet dit vir jouself laat werk.
Saailingsiektes: Sommige areas het hoër siektedruk as ander. In die warm Westelike produksiegebiede sal hitte ‘n groot invioed op rhizoctonia-voorkoms hé.
Sclerotinia: Hoe hoër die plantestand onder hoë-vogtigheidstoestande, hoe hoër die risiko van Sclerotinia-voorkoms.
Die regte plantestand kan ’n groot verskil aan jou opbrengs maak. Gesels met jou Pioneer-verteenwoordiger om die beste aanbeveling vir jou plaas en produksieomstandighede te kry.
Pioneer® brand products are provided subject to the terms and conditions of purchase which are part of the labeling and purchase documents. ™ ® SM Trademarks and service marks of Pioneer and its affiliated companies. © 2026 Pioneer