Geskryf deur: Pieter de Wet, Pioneer Landboukundige
Die moderne boer het vandag toegang tot meer data as ooit tevore. Waar besluite vroeër hoofsaaklik gebaseer was op ervaring, waarneming en ’n goeie begrip van ’n spesifieke land, word dit nou al hoe meer ondersteun – en soms selfs gedryf – deur data. Van eenvoudige Excel-sigblaaie tot gevorderde kunsmatige intelligensie (KI), het die manier waarop boere hul lande en plase bestuur oor die afgelope dekade dramaties verander.
Vir baie Suid-Afrikaanse boere het die digitale reis eenvoudig begin: ’n paar opbrengsdatapunte, kunsmisrekeninge en plantdatums wat in Excel vasgelê is. Selfs hierdie basiese rekordhouding het reeds waarde ontsluit deur beter beplanning en kostebeheer moontlik te maak. Maar Namate tegnologie ontwikkel het, het die volume en kompleksiteit van data aansienlik toegeneem.
Vandag het boere deurlopende toegang tot satellietbeelde, grondsones (fisiese, chemiese en biologiese grondinligting), weerdata en masjieninligting.
Die uitdaging het egter saam met die geleenthede gegroei. Meer data beteken nie noodwendig beter besluite nie. Inteendeel, boere beskik oor groot hoeveelhede inligting, maar sukkel om dit te vertaal in praktiese bestuursbesluite wat opbrengs en winsgewendheid verbeter. Dit is juis hier waar die volgende fase van digitale landbou sy waarde begin wys: die integrasie van data en die gebruik van kunsmatige intelligensie om patrone te identifiseer, praktiese aanbevelings te maak en selfs besluite te outomatiseer.
Granular Link is Pioneer se digitale platform wat data-integrasie op die plaas eenvoudiger maak. Die platform integreer satelliet- en/of stroopinligting in een bruikbare bestuursonekaart. Deur hierdie data te verwerk, bied Granular Link praktiese oplossings soos veranderlike toedieningskaarte (saad en kunsmis), gewasmonitering en siekterisikovoorspellings.
Dit help boere om meer presies te bestuur, insette te optimaliseer en uiteindelik opbrengs en winsgewendheid te verbeter.
Hoewel Granular Link gevorderde analitiese vermoëns bied, bly dit beperk in sy vermoë om plaasspesifieke bestuurspraktyke en konteks volledig te interpreteer. As saadmaatskappy sien Pioneer hierdie platform as ’n besluitnemingshulpmiddel wat die bestaande verhouding tussen boer en saadmaatskappy versterk.
Pioneer moedig boere steeds aan om hul data konsekwent op platforms soos Excel en ander digitale stelsels vas te lê en te bestuur. Tog bly goeie rekordhouding, jou eie kennis van die plaas en ons as saadmaatskappy se begrip van mieliebasters onmisbaar. Tegnologie wys waar. Ervaring verduidelik hoekom.
Geen land kan deur een enkele datapunt beskryf word nie. Grondvariasie, topografie, klimaat en bestuurspraktyke vorm saam ’n komplekse stelsel wat slegs deur die kombinasie van verskeie datalae verstaan kan word.
Satelliet- en stroopdata funksioneer onafhanklik van byvoorbeeld grondtipe, plantpopulasie of bemestingspraktyke wat gevolg is, en weerspieël die gesamentlike effek daarvan. Wanneer hierdie data ontleed word, wys die data die geïntegreerde reaksie van die gewas op al die moontlike onderliggende faktore.
Granular Link neem hierdie komplekse data en omskep dit in ’n eenvoudige, bruikbare bestuursonekaart.
Figuur 1 is ’n voorbeeld van hoe Granular Link se bestuursonekaart gebruik word as basis vir ’n goed beplande statistiese plantpopulasieproef. Die kombinasie van sonering en statistiese ontleding maak dit moontlik om opbrengsreaksie ten opsigte van plantpopulasie te kwantifiseer en optimale bestuursbesluite vir elke sone te bepaal. Hierdie benadering verminder die “geraai” in besluitneming en vervang dit met betroubare, plaas-spesifieke data.
Figuur 1. Granular Link sonekaart en ‘n statistiese blok ontwerp.
Die satellietgedrewe aard van Granular Link maak dit moontlik om bestuursones te ontwikkel sonder enige grondinligting of uitgebreide datastelle. Waar boere oor die nodige toerusting beskik vir veranderlike plant- of kunsmistoediening, kan die platform onmiddellik gebruik word.
Dit maak Granular Link ’n toeganklike en praktiese hulpmiddel vir boere wat hul presisieboerdery verder wil ontwikkel – of hulle nou net begin of reeds gevorderde bestuurspraktyke toepas. Elke landery vertel 'n storie – mits jy weet hoe om die data te lees. Kontak Pioneer om meer te hoor oor hoe Granular Link jou kan help om jou data met groter vertroue te benut.
Pioneer® brand products are provided subject to the terms and conditions of purchase which are part of the labeling and purchase documents. ™ ® SM Trademarks and service marks of Pioneer and its affiliated companies. © 2026 Pioneer