Geskryf deur: Lardus Basson, GWK Landboukundige Dienste en Corteva Agronomie.
Produsente staan dikwels aan die begin van die seisoen voor 'n moeilike besluit oor hoeveel hektare vol- en hoeveel gedeeltelik besproei moet word, weens die onsekerheid wat beurtkrag meebring. Die hoeveelheid water wat op sekere punte op 'n gegewe tyd beskikbaar is, verskil ook van plaas tot plaas. Oor die korttermyn is die ekonomiese impak van kragopwekking vir spilpunte deur middel van kragopwekkers en sonkrag, doodeenvoudig net te duur vir die meeste produsente. Eskom-afhanklikheid is 'n realiteit wat so goed moontlik bestuur moet word. Hierdie artikel poog om die voor- en nadele van die twee opsies te verken en sodoende die besluit vir die produsent makliker te maak. Produsente ken hul eie plase goed en kan op grond daarvan die regte besluit neem.
Foto 1. Besproeiingsmielies wat weens beurtkrag in die 2022/23-seisoen gevrek het.
Die meeste spilpunte wat in die verlede ontwerp is, se leweringspakkette het nie beurtkrag in ag geneem nie, aangesien dit nog nie in werking getree het nie. Vandag weet ons dat leweringspakkette meer moet kan toedien om voorsiening te maak vir tye wanneer die spilpunt gaan staan. Die groot uitdaging wanneer dit by hittegolwe kom, is dat die verdampingstempo geweldig hoog is en daar eenvoudig nie genoeg water gelewer kan word om te voorkom dat gewasse skade opdoen nie. Dit is ook nie altyd ekonomies om die totale pypontwerp te vergroot nie. Hierdie onsekerhede plaas dus meer druk op bestuur en beplanning om krisisse te probeer vermy.
'n Kosteberaming van vol- teenoor semi-besproeiing kan produsente met die besluit help. Tabel 1 dui die verskille in koste aan. Volbesproeiing met 'n opbrengsmikpunt van 16 t/ha, en gedeeltelike besproeiing met 'n opbrengsmikpunt van 12 t/ha en laer risiko word hier vergelyk.
| Mielieprys R3 500/ton | Volbesproeiing (750mm) | Semi-besproeiing (450mm) | Verskil |
|---|---|---|---|
| Opbrengsmikpunt | 16t/ha | 12t/ha | 4t/ha |
| Bruto produksiewaarde | R56 000 | R42 000 | R14 000 |
| Verskansingskoste | R48 | R36 | R12 |
| Saad | R6 500 (80 MK) | R4875 (60 MK) | R1 625 |
| Bemesting makro | R12 788 | R9 861 | R2 927 |
| Bemesting mikro | R1 204 | R1 204 | R0 |
| Chemie | R1 340 | R1 340 | R0 |
| Vliegtuig | R520 | R520 | R0 |
| Meganisasie | R4 778 | R4 050 | R728 |
| Brandstof | R1 438 | R1 438 | R0 |
| Versekering | R840 | R630 | R315 |
| Besproeiingskoste | R7 674 | R4 650 | R3 024 |
| Spilpuntkoste | R1 133 | R1 133 | R0 |
| Totale direkte koste | R38 263 | R29 737 | R8 526 |
| Rente | R1 702 | R1 331 | R371 |
| Totale produksie koste | R39 965 | R31 068 | - R 8 897 |
| Marge bo koste (wins/ha) | R16 035 | R10 932 | - R 5 103 |
| % Marge op produksiekoste | 40,12% | 35,18% | 4,94% |
Tabel 1. Vergelyking van direk-toedeelbare kostes en inkomste tussen vol -en semi-besproeiing.
Wanneer volbesproeiing toegepas word en 'n opbrengs van 16 t/ha gerealiseer word, bied dit die beste marge op produksiekoste, naamlik 40,12%, terwyl die marge op semi-besproeiing 35,18% beloop. Dit is net 4,94 persentasiepunte laer, terwyl heelwat risiko verminder word. Wanneer 'n produsent semi-besproei om sy risiko te verlaag, spaar hy R8 897 op insetkoste, maar verlaag sy brutoproduksiewaarde (inkomstepotensiaal) met R14 000/ha.
Die realiteit is egter dat wanneer die opbrengsmikpunt byvoorbeeld 18 t/ha is en beurtkrag gedurende ’n week met ’n hittegolf gepaardgaan, soos gedurende die 2022/23- seisoen toe die mielies rondom blomtyd was, kan 'n drastiese opbrengsverlaging voorkom. Werklike opbrengste het die afgelope seisoen in 'n proef ongeveer 11 t/ha beloop. In hierdie geval sou die semi-besproeiingsopsie beter wees, omdat die produsent meer as 2,37 t/ha laer as die opbrengsmikpunt sou wees.
Die ander opsie sou wees om byvoorbeeld net die helfte van 'n spilpunt te besproei in plaas van die volle oppervlakte, om seker te maak dat die gewas behoorlik natgemaak kan word indien 'n hittegolf sou tref.
Die druk op die volume water wat gelewer moet word, kan ook verlig word as ander gewasse in die stelsel ingebring word wat op ander tye water benodig as byvoorbeeld mielies. Dit is raadsaam om nie al die gewasse op dieselfde tyd te laat blom nie en sodoende die pieklewering van water meer eweredig deur die seisoen te versprei.